Family friendly

Rudi Claase - Van my Wysie Af (Hermanus)

Thu Sep 29, 15:15 - Thu Sep 29, 15:30

Grobelaar Saal

ABOUT

BEKENDE SANGER VAN SY WYSIE AF

 

Wel, darem net figuurlik gesproke. Dit is nou as jy die storie agter die storie, of kom ons sê, die liedjies ken. 

Die liedjieskrywer, musikant en sanger het geen bekendstelling nodig nie. As jy vir Rudi Claase nie self ken nie sou jy al vir seker een van sy liedjies gehoor het want sewe honderd Afrikaans- en Engelse treffers het al uit sy pen gevloei. Sy laaste album, wat heel gepas “Liedjieskrywer” heet, was ‘n kommersiële sukses en met hierdie album het die sanger nie net sy veelsydigheid as liedjieskrywer en musikant gewys nie, maar hy het ook ‘n kant vir die publiek gewys wat min al gesien het en dit is getoonset in die doodeerlike lirieke van die snitte wat op die album is.

Binnekort toer hy die land plat met sy nuwe vertoning – Van my wysie af. “Ek vier hierdie jaar my een-en-twintigste jaar in die musiekbedryf en in hierdie werk vier ek die goed, die sleg, die vreemd en die ontnugtering,” vertel die sanger. Verder is hy heel ernstig wanneer hy sê, “soms raak almal van hulle wysies af.”

Dié konsert gaan veel verder as net ‘n sanger wat op ‘n verhoog klim en van die liedjies sing wat hy vir ander groot name in die bedryf geskryf het. Hy maak geen geheim daarvan dat hy self met bipolêre gemoedsversteuring sukkel nie en was al verskeie kere in die media hieroor. “Depressie is niks om oor skaam te wees nie. Reik uit, praat met iemand. Om in stilte te ly is nie die antwoord nie.”

Rudi hoop om met die konsert mense se harte te beweeg en om siele te verkwik met werke wat direk uit die hemele vir hom gegee is. “Ek dink ook dat die “waarheid” agter soveel stories oor my (in die media), ‘n plekkie in die son moet bekom. Ek hoop om ‘n nuwe wysie van hoop in elke hart te plaas wat dit bywoon,” vertel hy opgewonde.

Min skrywers kan spog dat hulle werk internasionale platforms bereik het. Vele van Rudi se liedjies word in Nederland en Duits vertaal. “Die grootste sukses hiervan is die Nederlandse sangsensasie, Belinda Kinnaer wie my lied, ‘Sewe Oseane’ in Nederland vrygestel het. Dit was ‘n direkte vertaling en het gou nommer een behaal,” vertel die sanger trots, wat ook saam met haar in Nederland getoer het.

Met liedjies soos Tussen woorde, Sewe Oseane, Engele, Pêrels, As ek sing en nog vele meer, hoop Rudi om in die vertoning “Van my wysie af” mense op ‘n reis in sy persoonlike lewe te neem. Hy gaan staaltjies deel van hoe die liede geskryf is en waar dit vandaan kom. “Ek gaan sit en dadelik word ‘n liedjie geskryf, maar die werklike liedjies wat saakmaak word deur God vir my geleen,” vertel die bekroonde skrywer.

Die eerste “Van my wysie af” vertoning vind plaas op 14 Februarie by die Barkley Street Theatre in Uitenhage en beloof om die begin van ‘n musikale-reis te wees waar Rudi vir sy aanhangers nie ‘n deel van sy persoonlike lewe en hart wys nie, maar hulle toelaat in die diepste kamers van sy siel.

 

Vir meer besonderhede kontak Suzette by [email protected] of skakel 082 416 8204


DIRECTIONS

Rudi Claase - Van my Wysie Af (Hermanus)
Grobelaar Saal
1 Church St, Westcliff, Hermanus, 7200
Get Directions